Op Camino saam met Chambers – Karel PJ Nel
OP CAMINO SAAM MET CHAMBERS
’n Pelgrimstog na ’n dieper wandel met Christus
Oswald Chambers se My Allerbeste vir Sy Hoogste is al vir geslagte lank ’n reisgenoot vir gelowiges wat verlang om Christus beter te ken en Hom met hulle hele lewe te volg. Sy gedagtes is dikwels uitdagend, soms ontstellend, maar telkens ’n uitnodiging om dieper te kyk — na God, na onsself en na ons verhouding met Hom.
Op Camino saam met Chambers nooi jou om hierdie bekende geestelike pad opnuut aan te pak. Dit is ’n pelgrimstog waarop elke spreuk jou uitnooi om stil te staan, te luister, te oordink en jou eie geloofspad in die lig van God se Woord te ondersoek. Langs die pad ontvou die geestelike groeipad wat in 2 Petrus 1:5–7 beskryf word: ywer, geloof, deug, kennis, selfbeheersing, lydsaamheid, godsvrug, broederliefde en naasteliefde. Elke tree herinner ons daaraan dat geestelike volwassenheid nie in ’n enkele sprong bereik word nie, maar dat God ons vorm terwyl ons saam met Hom voortgaan.
Chambers stap as ’t ware langs jou en daag jou uit om eerlik na jou hart en jou gehoorsaamheid aan Christus te kyk. Maar hy is nie die bestemming nie. Christus is die Een na wie die reis jou telkens teruglei.
Stap tree vir tree saam. Groei in geloof. En ontdek opnuut wat dit beteken om Christus jou Allerhoogste te maak.