Hoe vergeet ’n mens? – Amanda Boucher
“Hoekom is jy al weer so haastig Shasha? Ons het wanneer laas tyd aan mekaar spandeer. Soos in die begin jare. Onthou jy nog?” Sy het geglimlag. “Ja ek onthou. Toe jy nog met hart en siel aan my behoort het.” Haar woorde het hom onkant gevang. Hy wou eers stry, maar hy het geweet sy was reg. As Arno maar net geweet het watter streep die noodlot vir hom getrek het daardie dag.
Uit gewoonte die afgelope tyd, voel Cindy weer oor haar maag. Wie sal ooit hierdie leë gevoel kan verstaan? Die wonder van ʼn baba is onbeskryflik. Die geskenk wat uit die hemel vir ʼn vrou bestem is. Of in elk geval vir sommiges. Die trek op haar lippe is skaars merkbaar na buite, maar binne is sy bitter. Vergeet en vergewe is geen maklike taak nie. En om alleen daardeur te gaan… dis byna onmoontlik. Sy dink weer aan ʼn email wat sy eendag gekry het: Difficulty is the first stage of a miracle. However, for a great miracle the condition is not difficulty but impossibility.