Die diere gaan see toe – Louise Minnaar
Die diere gaan see toe, is gemik op babas en peuters tussen die ouderdom van 9 maande en 3 jaar. Die kleurvolle illustrasies is van so aard dat dit die kleintjies se verbeelding kan aangryp en skep die geleentheid om met die kind te gesels. Die eenvoudige woorde is genoeg om hulle te leer en te laat lag oor die diere en hul gewoontes. Die storie is in vier dele verdeel, kort genoeg om die kleintjie se aandag te behou.
Koning Leeu het bepaal dat die diere ‘n dag kan see toe gaan, wat groot opgewondenheid in diereland veroorsaak. Een vir een klim die diere in die bus op pad see toe. Die pad raak effens lank en hulle raak baie moeg gesit. Aap het egter versigtig bestuur en uiteindelik is hulle by die see! Elke dier het ‘n ander idee van wat hulle graag by die see wil doen. Of dit is om te swem, op die strand te hardloop, skulpies op te tel of om ‘n sandkasteel te bou, almal geniet die dag gate uit. Laat middag sien Karen die Kameelperd die wolke nader kom en kort voor lank reën dit katte en honde! Al die diere moet in die bus klim en die pad terug diereland toe aandurf.