Droom en doen : Sue Eksteen
A5, 86p. ‘n Boekie vir vroue oor vroue-dinge
Hierdie boekie is ‘n klein ‘handleiding’ vir vrouens en mammas. Daar word op ‘n gemaklike trant gesels oor al die dingetjies waarmee vroue te doen kry in hul daaglikse lewe en hulle verhoudings met man, kinders, vriende en familie. Die hoofdoel van die boekie is om te inspireer en motiveer.
Meeste van die hoofstukke gaan oor die persoonlike ondervindings van die skrywer en sy deel haar insig en lesse met die leser. Ons almal sukkel, leer, val, staan op, faal, stel terleur, motiveer, inspireer en ontvang talente en gawes van God wat ons kan gebruik om ander mee te help. Dit is tog waaroor die lewe gaan… ons leef nie vir onsself nie, maar vir ander. Dit is belangrik dat ons lewens ‘n verskil maak en ‘n positiewe inpak het op die lewens van diegene wat ons daagliks mee te doen kry.
Lees die boekie met ‘n oop gemoed. Neem daaruit wat jy in jou lewe kan toepas en gebruik. Terwyl jy lees, laat toe dat God jou denke ontvanklik sal maak vir Sy Woord, Sy liefde en Sy groot genade. Ons dien ‘n God wat ons so oneindig lief het, en so graag wil hê dat ons gelukkig sal wees en voluit lewe.
Besef vandag dat jy uniek en baie spesiaal is en dat jou lewe ‘n spesifieke doel dien op hierdie aarde. Laat toe dat die Here jou gebruik om ander te inspireer om hulle volle potensiaal te bereik. Laat jou lewe geld en jou dood ‘n ware verlies wees vir die wat agterbly, maar ‘n wins vir die Koninkryk!